|
|
|
|
Wie is die AP Kerk?
Gepos deur
Admin
op
Sunday, July 31, 2005 (CST)
Op 27 Junie 1987 is 'n nuwe kerk gestig in die Skilpadsaal te Pretoria. Nuwe gemeentes het vinnig ontstaan, wat in kerkverband met mekaar sou lewe. Later het hierdie kerkverband die naam "Afrikaanse Protestantse Kerk" (APK) gekry.
|
ONTMOET DIE AP Kerk
Die Afrikaanse Protestantse Kerk: -
- Is 'n kerk van Jesus Christus;
- Is 'n Protestantse Kerk;
- Is 'n Afrikaanse Kerk;
- Is 'n Gereformeerde Kerk, 'n spruit van die kerkhervorming van die 16 de eeu, 'n spruit wat ware kerk van Christus wil wees volgens die Calvinistiese vertolking van die Skrifinhoud;
- Aanvaar die Bybel, die hele Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God;
- Glo in die Drie-enige God(Vader, Seun en Heilige Gees) soos Hy Hom in sy Woord openbaar;
- Glo dat die waarhede van God se Woord betroubaar saamgevat is in die belydenisskrifte (Twaalf Artikels; Geloofsbelydenis van Athanasius; Geloofsbelydenis van Nicea; die Nederlandse geloofsbelydenis; die Heidelbergse Kategismus; die Dordtse leerreëls) & belydenisskrifte wat deur alle eg-gereformeerde kerke aanvaar word;
- Verkondig die volle Raad van God soos in sy Woord geopenbaar;
- Weer alle partypolitiek uit sy prediking, huisbesoek, verbondsonderrig en ander kerklike werksaamhede;
- Erken en respekteer die vryheid in selfstandigheid van die plaaslike kerk(gemeente) as volledig kerk van Christus, onder leiding toesig en regering van die plaaslike ouderlingraad en handhaaf 'n kerkorde wat gebaseer is op die presbiteriale kerkregeringstelsel, ooreenkomstig die beginsels van Dordrecht;
- Maak groot erns met die erediens, met die verkondiging van God se Woord, met die sakramente(doop en nagmaal), met die kerklike tug, die onderrig van verbondskinders en die opleiding van predikante;
- Werk saam in meerdere vergaderinge, naamlik in ringe en in die sinode, waar elke plaaslike gemeente reg op gelyke verteenwoordiging het;
- Ag dit sy roeping om barmhartigheidsdiens, evangelisasie en sendingwerk te doen;
- Erken en respekteer die verinheemsing van Christus se kerk onder mense, dit wil sê dat in elke volk die mense wat in Christus glo, 'n eie kerk vorm, en dat gelowiges gered word uit verskeie volkere;
- Soek samewerking met ander Christelike kerke wat aan God se Woord getrou bly, en verkondig die Woord van God aan ander Christelike Kerke wat van die Woord afgedwaal het.
Iets ekstra:
1. Die Afrikaanse Protestantse Kerk – ‘n kerk van Jesus Christus.
- Jesus Christus, die Koning van die Kerk, is Hoof van die AP Kerk. Niemand in die kerk het hoër gesag as Hy nie (Kol. 1:18; Ef. 4;15).
- Die AP Kerk is nie ‘n “domineeskerk” nie, Christus regeer self sy Kerk deur sy Woord en Sy Heilige Gees, maar in die proses gebruik Hy ouderlinge (1 Tim. 3:1-7; 1 Pet. 5:1-4).
- Die ouderlinge (waarvan die dominee een is) het geen gesag in hulself nie. Hulle moet slegs die gesag van Jesus Christus bedien. Hulle is die instrumente waardeur Christus sy gesag beoefen in sy Kerk. Hulle kan dus nie maak net soos wat hulle goeddink nie, maar moet getrou wees aan wat die Bybel oor ‘n onderhewige saak sê. Wanneer die Ouderlingraad só optree, gee hulle daardeur die wil van Christus deur aan die gemeente en is dit Hy wat regeer.
2. Die Afrikaanse Protestantse Kerk is ‘n Gereformeerde Kerk.
Die Bybel word aanvaar as die onfeilbare Woord van God (2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21).
Ons glo dat God in hierdie Woord van Hom, alles wat die mens moet weet om salig te word, aan ons bekend gemaak het. Alles wat ons moet glo en alles wat ons moet verwerp is hierin vir ons opgeteken.
Dit is ook ons maatstaf vir wat ons moet doen en wat ons nie moet doen nie.
In die AP Kerke in Suid-Afrika, Namibië, Suid Amerika en Engeland, word die 1933/53 vertaling van die Bybel in Afrikaans by alle amptelike geleenthede gebruik. Die 1983 vertaling (met al sy hersienings) mag wel ter toeligting gebruik word. Geen lidmaat word ook verbied om van ander Bybelvertalings gebruik te maak tydens sy/haar persoonlike Bybelstudie nie.
Ons onderskryf die Drie Formuliere van eenheid: 1. Die Nederlandse Geloofsbelydenis 2. Die Heidelbergse Kategismus 3. Die Dordtse Leerreëls (wat spesifiek oor die Goddelike uitverkiesing en verwerping handel)
Hierdie belydenisskrifte word aanvaar omdat die inhoud daarvan met die Woord van God ooreenstem. Hulle is bloot vir ons ‘n gesistematiseerde uiteensetting van wat die Woord van God oor alle aspekte van die geloof sê. Hulle het gesag omdat dit die inhoud van die Bybel verwoord, maar die Bybel het steeds die hoogste gesag.
3. Aanbiddingswyse.
Ons glo dat God ‘n God van orde is en dat Hy daarom ‘n afsku het in dit wat onordelik is (1 Kor. 14:34,40).
Om hierdie rede handhaaf ons ‘n sekere orde in die erediens, aangesien die erediens ‘n tweegesprek tussen God en sy volk is.
Hoewel ons nie voel dat dit verkeerd is nie, klap ons nie hande of steek arms omhoog in die kerk nie, aangesien ons voel dit kan lei tot onordelikheid.
Hoewel ons nie ‘n probleem het met die gebruik van verskillende instrumente in die erediens nie, is dit nie by ons die gebruik om ‘n orkes in die erediens te hê nie. Ons maak gebruik van die orrel, klavier of enige enkel instrument aangesien ons voel dit die mees gewyde stemming tot gevolg het en omdat dit nie die sang van die gemeente (wat eintlik voorop moet staan) oorskadu of verswelg nie.
Ons uiter nie uitroepe soos “halleluja” en “amen” onder die erediens nie, hoewel ons tog as gemeente op gepaste plekke in die erediens die Here loof en erken dat dit wat Hy vir ons sê, waar en seker is.
Aanbidding en gebed (wat voorbidding insluit) is wel vir ons baie belangrik, maar ons roep nie spesifieke mense na vore om vir hulle te bid nie. Ons glo nie dat hierdie gebruik om mense na vore te roep en vir hulle te bid enigsins die krag of effektiwiteit van gebed sal verhoog nie. Dit kan eerder lei tot onordelikheid in die erediens.
4. Prediking.
Prediking is die verkondiging van die Woord van God. Dit behels die uitleg en toepassing van die Woord van God op die daaglikse lewe van die gelowige.
In die prediking word die volle raad van God verkondig en hierdie verkondiging moet altyd Christosentries wees (1 Kor. 2:2). Geen politieke standpunte mag tydens eredienste gestel word nie.
Slegs persone wat deeglik opgelei is in die teologie, goed onderleg is met die inhoud van die Heilige Skrif en deur die kuratorium goedgekeur is as bedienaars van die Woord, word toegelaat om in die AP Kerke te preek.
Verder mag enige manlike lidmaat van ‘n gemeente ook ‘n erediens lei, maar met die voorwaarde dat ‘n goedgekeurde preek as leespreek voorgedra word.
Hoewel gelowiges in die prediking tog opgeroep word om hulself te bekeer en tot God terug te keer, is dit nie by ons die gebruik dat mense op allerhande wonderbaarlike wyses tot bekering moet kom en omval terwyl hulle deur die Heilige Gees oorrompel word nie. Ons glo dat God bekering sal bewerk in wie Hy wil en hoe Hy wil en dat mense nie gedwing moet word om tot bekering te kom nie.
5. Kerkorde van die Afrikaanse Protestantse Kerke in kerkverband.
- Hoewel ons dieselfde belydenisskrifte as baie ander Afrikaanse Gereformeerde kerkgroeperinge het, verskil ons tog in die interpretasie daarvan. Om hierdie rede het ons ‘n eie kerkorde wat ons andersheid verwoord en ons as Afrikaanse Protestantse Kerke tot ‘n kerkverband saamsnoer.
- Ons kerkorde is geskoei op die basis van die Dordtse kerkorde wat opgestel is tydens die sinode van Dordrecht 1618/19 .
- Hierdie kerkorde is geskoei op die Woord van God wat vir ons die beginsels bied vir die ordelike samesyn binne die plaaslike gemeente. Hierdie beginsels is egter net aangepas vir eietydse toepassing.
- Indien enige lidmaat ‘n bedenking het oor enige iets in die Bybel, die Belydenisskrifte of die Kerkorde, kan so persoon nie links en regs sy sienings verkondig nie. Die kerklike weg van beswaar moet gevolg word. Hiervolgens sal die lidmaat sy besware op skrif stel en dit by sy/haar plaaslike ouderlingeraad inhandig, wat dan die saak verder sal ondersoek.
6. Die AP Kerk staan die volkseie karakter van die kerk voor.
Ons glo dat God dit in sy alwyse raad goedgedink het om volkere tot stand te bring. Ons glo dat Hy dit ook goeddink dat volkere binne volksverband Hom sal aanbid, selfs in die hiernamaals (Deut. 32:8; Hd. 17:26; Openb. 7:9, ens.).
So glo ons dat die AP Kerk die verinheemsing van die Kerk van Jesus Christus onder die Afrikanervolk is.
Om hierdie rede is lidmaatskap binne die AP Kerk eksklusief vir die Afrikanervolk. Hiermee stel ons onsself nie bo ander bevolkingsgroepe nie, maar leef net ons roeping uit om binne volksverband, soos God ons gemaak het, hierdie God van ons te aanbid en verheerlik.
Ons veroordeel egter geen kerk wat nie dieselfde beginsel as ons ten opsigte van lidmaatskap handhaaf nie.
Hoewel hierdie beginsel dikwels deur ander persone as polities afgemaak word, het ons geen politiese dryfveer vir die handhawing van hierdie beginsel nie. Ons beroep ons op die Woord van God vir die korrektheid daarvan.
7. Dankoffers.
Alles wat ons besit behoort aan die Here God. Hy is die Besitter van alles.
Hy het ons aangestel as rentmeesters oor sy eiendom en vra dat ons dit goed moet bestuur. Hy leen aan ons hierdie dinge om te kan oorleef in hierdie wêreld.
Hy vra egter dat ons uit dankbaarheid teenoor Hom, vir al die genade aan ons bewys, ‘n tiende van ons inkomste aan Hom sal teruggee. Hiermee dank ons nie net die Here nie, maar erken ons ook dat alle dinge eintlik aan Hom behoort.
‘n Offergawe moet altyd seermaak, ek moet voel ek kan eintlik nie daarsonder klaarkom nie, anders is dit nie regtig ‘n “offer” van my aan die Here nie.
Die kerk gebruik nie hierdie geld om haarself mee te verryk nie, maar gebruik dit vir die instandhouding van die erediens, om te sorg dat die Woord verkondig word, om te sorg dat sending- en evangelisasiewerk gedoen word en om te sorg vir die diens van barmhartigheid.
Ten slotte is dit belangrik om te weet dat die Here ook vra dat die gesindheid waarmee ons gee, reg moet wees. ‘n Regte gesindheid is belangriker as ‘n groot dankoffer.
Teksverse wat vergelyk kan word: Ps. 24:1; Mt. 25:14-30; Gen. 28:22; Deut. 14:22-29; Mal. 3:8-10; Mark. 12:42-43.
|
|
|
|
|