>>
Tuisblad

>>
Wie is ons

>>
Kontak ons

>>
Kalender

>>
Bybelstudies

>>
Podcasts

>>
Gebedsversoeke

>>
Laai af

>>
Foto Gallery

>>
Kerkraad

>>
Skakels

>>
Publikasies

>>
Werk en verblyf



Teken aan
Registreer

Kopiereg © 2006 - AP Kerk Londen
Webtuiste ontwerp en ontwikkel deur Mech-Strip Manufacturers (Pty) Ltd




Geskiedenis van die AP Kerk - Londen

Gepos deur op Monday, July 25, 2005 (CST)

In Jn. 21:26 sê die Here Jesus vir Petrus: "Pas my skape op!" In hierdie artikel kan u meer lees oor hoe die Here voorsien het dat sy skape ook hier in die verre Engeland, opgepas word.

Om Londen toe te kom, is baie makliker gesê as gedoen.  Die opgewondenheid is gewoonlik groot, maar die ontnugtering van die werklikheid is soms baie erger.  Jy het gehoor hier is ongeveer 1 miljoen Suid-Afrikaners en ons Suid-Afrikaners is mos meestal Christene!  So dink ‘n mens, totdat jy hier kom en besef hoe min ware Christene daar in Suid-Afrika is.  Reg of weg, dis die effek wat Engeland op ‘n mens het.  Dis moeilik om as kind van die Here op jou eie staande te bly teen die elemente van die vreemde.  ‘n Mens het ‘n behoefte na ‘n geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat mekaar ondersteun en aanmodig om sterk te staan in ons geloof.  So was ons AP Kaners ook maar soekend na ‘n gereformeerde geloofsgemeenskap waarby ons kon inskakel en tuisvoel.

Dit was soos ‘n oase in ‘n woestyn toe ons met blydskap verneem het van ds. Gideon Grobler wat Londen toe kom en dit was die antwoord op baie gebede.  Op 16 Desember 2003 hou hy sy eerste diens in Walthamstow met 14 mense teenwoordig.  Uiteindelik voel ons hoe ons dors geles word.  Ons kan net die Here dank dat Hy ds. Gideon na ons gestuur het.  Ds Gideon het met sy borrelende persoonlikheid vinnig in ons harte gekruip.  
Hy was baie optimisties en het met ywer onder die Suid-Afrikaners begin werk en sonder huiwer Suid-Afrikaners op straat genader en uitgenooi om die eredienste by te woon.
‘n Baptistiese Kerk in Walthamstow het hul fasiliteit tot ons beskikking gestel en toe was dit moontlik om elke Sondag ‘n erediens te hou. Alhoewel daar by die eerste erediens slegs 7 persone opgedaag het, het mens geweet die saadjie moet net geplant word en ons hemelse Vader sal laat groei.  Deur huisbesoeke het ds Gideon ons ook ondersteun en weer moed gegee.  Ons het ook begin om Woensdagaande saam Bybelstudie te hou.
 

Januarie 2004 het ons verneem dat ons nie meer die Baptiste se fasiliteit kon gebruik nie. Vir drie Sondae het ons eredienste gehou in ds. Gideon se woonstel. Op 12 Februarie 2004 het ons ‘n ander gebou gekry. Wie sou nou ooit kon dink mens kan kerk hou in ‘n lokaal wat as kroeg en dansbaan gebruik word?  Zulus is ‘n bekende kuierplek onder Suid Afrikaners in Londen.  Aangesien ons die gebou gratis kon kry, het ons die geleentheid aangegryp.  Intussen het die bywoning tot dertig op ‘n Sondag gegroei en mens kon die hand van die Here daarin sien. Tydens ‘n erediens in Julie 2004 was dit ook nog ‘n eerste om te kon sien hoe Gideon en Maritza Pretorius trou aan mekaar beloof – ons heel eerste troue! 

Ons het besef dat ons sal moet aanbeweeg en meer selfstandig raak.  Ds. Gideon was hier in private hoedanigheid en kon daarom nie ouderlinge en diakens in die amp bevestig nie, daarom is daar gesoek na ‘n oplossing vir die probleem.  Verskeie gemeentes in Suid-Afrika is genader vir hulp.  Deur die genade van die Here het APK Namakwaland ingestem om ons onder hulle vlerk te neem.  Ons sou dan as ‘n wyk van hul gemeente funksioneer.  Dit was ‘n besondere unieke gebeurtenis toe ons op Sondag 29 Augustus 2004 verneem het dat ons amptelik ‘n wyk van die AP Kerk Namakwaland is.  Met dank aan ons Hemelse Vader is die eerste drie ouderlinge, nl. André Pretorius, Gert Schütte en Reghardt van Niekerk ook tydens hierdie geleentheid bevestig.  Kort hierna het ons met leed verneem dat ds Gideon ons gaan verlaat.  Ons weet ds Gideon het baie opgeoffer, maar met die hulp van die Here het hy ‘n groot taak hier begin en verrig.  ‘n Baie groot dankie aan ds Gideon vir sy werk hier en ons bid hom toe God’s rykste seën en voorspoed waar hy hom vorentoe mag bevind.

Gedurende hierdie tyd wat ons herderloos was, is die preekbeurte afgewissel tussen leespreke deur ouderlinge en twee proponente, Thomas Dreyer en Kruger de Kock, van die Gereformeerde Kerk.  Ons bywoning het aansienlik geval gedurende hierdie tyd en die gemiddelde opkoms na die eredienste was ongeveer 12 persone.  In samewerking met Namakwaland is propenent Schalk Strauss op 21 November 2004 beroep met die opdrag – bediening in Londen.  Dit was met groot vreugde, blydskap en dankbaarheid dat ons verneem het dat hy die beroep aanvaar het.  Ons kan net die Here dank dat Hy iemand vir ons gestuur het, want die oes is groot onder ons eie mense hier in Londen.  Jesaja 65 vers 24: En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.

Gedurende Desesmber 2004 het dr. Frans de Bruyn van die Gereformeerde Kerk ons uitgehelp met die eredienste. Ons dank ook aan hom wat sy vakansie opgeoffer het om ons te kan help.  Met ds. Schalk wat eers in Februarie by ons kon aansluit, het ons voortgegaan met ons eredienste en weeklikse Bybelstudie. Ons het dan ook op 16 Desember 2004 ons tweede geloftefees gehou wat deur 18 mense bygewoon is. Ons het ook ons eerste kerssangdiens gehou waarby 22 mense opgedaag het om ons Verlosser se geboorte te herdenk. 

Ds. Schalk en sy vrou Doreen het die agste Februarie geland en hulle is op 12 Februarie met ‘n tipiese Londen-braai verwelkom.  Op 13 Februarie 2005 het ds. Schalk sy intreepreek uit Genesis 12 gelewer.  Daarna het ons gemeentetjie net van krag tot krag gegroei.  Meer Bybelstudiegroepe is begin, opleidingsgeleenthede en praatjies word gereeld aangebied.  Op 6 Maart 2005 het ons gemeente nog ‘n eerste beleef met Pierre Coetzer se openbare belydenisaflegging van sy geloof.  Tydens hierdie geleentheid het ons ook ons eerste nagmaal gevier.  In Augustus kon ons reeds ons eerste gemeentekamp hou.  Dit was ‘n reuse sukses.  Ons kon die jaar op ‘n hoogtepunt afsluit met ons tweede kerssangdiens wat deur 68 mense bygewoon is!  Ons orreliste, Anita Schütte, het haarself baie goed van haar taak gekwyt. 

Vandag het ons ongeveer 90 mense wat op gereelde basis ons eredienste bywoon.  Hulle is opgedeel in 6 wyke.  Ons kerkraad het gegroei van 3 tot 8 en ons het twee sterk Bybelstudiegroepe wat weekliks vergader.  Ons poog om ten minste elke kwartaal ‘n groot sosiale geleentheid te hou en dis gewoonlik ‘n groot hoogtepunt.  Deur dit alles is die hand van die Here telkens sigbaar en daarom behoort al die dank en eer en aanbidding aan Hom, ons Koning en Verlosser!

 


 





Tuisblad   |  Wie is ons   |  Kontak ons   |  Kalender   |  Bybelstudies   |  Podcasts   |  Gebedsversoeke   |  Laai af   |  Foto Gallery   |  Kerkraad   |  Skakels   |  Publikasies   |  Werk en verblyf